Maandelijks archief: augustus 2016

  • Olifantsberg ’n sin vir Avontuur

    Olifantsberg is nie jou tipiese Breedekloofwynplaas nie. Met stok-by-paaltjieaanplantings van Rhône-kultivars en klein lotjies wyn, is hierdie boetiekkelder deel van die beweging om die klem te verskuif na meer kwaliteitwyn in ’n omgewing wat tot onlangs deur grootmaatwyn-produsentekelders oorheers is.

    Paul Leeuwerik het die plaas in 2003 gekoop nadat sy huis in Holland afgebrand het. Dit was die begin van ’n Afrika-avontuur vir dié belastingprokureur en sy vrou naam. Aanvanklik is die wingerd van 0.8 ha se oes verkoop, maar die eerste volwaardige Olifantsberg-oesjaar het kort daarna in 2005 gevolg. Dit kon nie te power gewees het nie, want die wingerdaanplantings is in 2006 uitgebrei. Die wynstokperdjie het ernstig geword toe Jacques du Plessis (nou by Constantia Uitsig) as wynmaker aangestel is.

    Jacques se Rhône-inspirasie het ’n behoorlike hupstoot gekry met ’n besoek aan Riebeeksrivier in die Swartland en kontak met die wingerdghoeroe, Rosa Kruger, en ikoniese wynmaker, Eben Sadie. “Ons het na Rhône-variëteite omgeskakel met ’n stok-by-paaltjie-opleistelsel,” sê Paul. “Alles het gewaai, behalwe ’n blok Pinotage, dit ten spyte van die feit dat ek eintlik van Bordeauxwyne hou,” skerts hy.

    Vandag spog Olifantsberg met bykans 20 ha wingerd teen die Brandwachtberg se hange. Dis pure Rhône, met Shiraz, Carignan, Mourvedre, Roussanne, Grenache Blanc en Noir, asook Chenin Blanc, Chardonnay en, natuurlik, die oorspronklike lappie Pinotage.

    Elizma Visser is verlede jaar as Olifantsberg se wynmaker aangestel. Haar passie lê in wingerd en die ongewone opset pas haar. “Ek wil juis geleentheid hê om betrokke te wees van die wingerd tot die eindproduk en hier is dit sommer ’n noodsaaklikheid,” sê sy.

    Paul het haar uitgedaag om die plaas in die volgende rat oor te skakel, maar vir haar gaan dit ook daaroor om ’n bydrae tot die vallei as geheel te lewer. “My man is ook ’n wynmaker in die omgewing en ons is trots Breedekloof. Olifantsberg kan uit ’n kwaliteits- en eksklusiwiteitsoogpunt ’n unieke bydrae lewer.”

    Die relatief jong wingerd lewer reeds wyne op wat baie karakter het en die aanslag bly minimalisties, met ’n fokus op die unieke ligging. “Ons koop ou-wingerd-Chenin Blanc in en ook dit is nou uitsluitlik van die Breedekloof,” sê Elizma.

    Olifantsberg se wyne is baie soos die plaas self: Ru maar vol karakter en potensiaal. Die Olifantsberg Blanc 2014 is ’n versnit van Roussanne – skynbaar Elizma se oogappel – Grenache Blanc, Chenin Blanc en ’n titseltjie Chardonnay. Met sy opvallende tekstuur kan ’n mens nie help om dadelik aan soortgelyke wyne van die Swartland te dink nie (’n kompliment).

    Dieselfde geld die 2013 Silhouette – ’n rooi Rhône-versnit wat verlede jaar ’n trofee by die Old Mutual Trophy Wine Show gewen het. Hierdie wyn is parfuumagtig, met ’n gepaste aardsheid en selfs ’n tiksel biltong.

    As dit met jong wingerd vermag kon word, is Olifantsberg ’n naam om dop te hou. Paul het duidelik steeds die energie en waagmoed om sy Afrika-avontuur voort te sit. Elizma het groot skoene om te vul, maar terselfdertyd is die wingerd geplant en die grondslag gelê om op voort te bou met ’n eiesoortige verhaal en terroir. En dit sal ’n groot bydrae vir die Breedekloof as geheel wees.

1 artikel(en)